Publikasies
GEDIGTE
Die rus is elders
(na Vermeer se Milkmaid)
Iewers tussen raam en doek
het lig
in geglip.
Dit is `n natuurlike skyn
dié lyn van haar arms
sterk, seker
om die beker
ondersteunend onder die lip
waar `n dun straal melk
stil stort.
Haar gesig is vreedsaam.
Onbewus van die toeskouer buite die raam.
Vermeer laat tyd en ruimte
inkeer tot rus.
Skadu vervloei in lig.
Stilte en helderheid word
poëtiese musikaliteit:
bleek, skemer
salm, amber
berlynsblou en rokerig,
barnsteenkleurig
helder-ondeursigtig;
Vermeer staan terug en kyk.
Geraam teen tydsverloop en slyt:
stilte.
Van melk
wat stort.
Karlien van der Merwe
Droomreën
Die nag het ‘n droom gereën.
Sy staan by die venster, heeltemal alleen.
Waar sy anderkant die ruit ’n japonika,
’n lappie gras, ’n verbleikplant verwag
lê vannag ’n bloekombos.
Sy druk altwee haar palms teen die glas aan
regoor die geel-witste van die maan.
’n Honderd druppels reflekteer
die plaashuis weer en weer.
Die glas raak deurlatend
en sy kry die reuk van bedremmelde nat skaap
en van moddergetrapte mis;
nes dit in plaasdrome is.
Dit word koud duskant die diefwering.
Karlien van der Merwe
inloer
As ‘n mens verby die bloekombos
kaalvoet skaapstof opskop
sal Pa se fluit-deuntjie ylerig hort en weer koerskry
soos hy planne maak
om die John Deere aan die loop te kry.
Die waenhuisdak opgeefsel in die somerson
en ek voel bevryding ligvoets in my hart klop.
Al die gisters is verby en vandag, na baie inkuil,
ruik ek ghries en grondboondop.
Die skaapvruglaning spikkel pointillisties geel en rooi
en daar’s iemand, wil-wil lyk na Shadrack Ndlebe, by hom.
Ek sal agterom die soet reuk van voersilo na-yl;
‘n mens moet opgeefsels met geduld inwerf.
As ek my hande saggies voor sy oë hou:
“My maggies, Lien, ek sê vir Ma dit proe soos reën,
en kýk nou!”
Karlien van der Merwe
Meeste dinge dood alleen
Die son het gistraand
in die gruisgat geval.
Ek verwag dit weke lank.
Eers het dit op die rand gaan sit.
Saggies,
dat die skerp klippers nie gate
deur die stollende skil sny nie.
Laasnag, toe ek omdraai na die kombuis
het dit oorhaastig neergebons.
Die puntige gruis het deur die dun sak gesny.
Nes die reeds bevrugte eier
wat ek in die pan oopgeprik het.
Ek moes dit in die skilleskotteltjie uitgooi.
Die soet van die seringboom en van die nag
het die dooier toegedeksel.
Karlien van der Merwe
laaste blik
Die koekies proe bietjie soos stainless steel.
Daar was ghries in die hefboom van die koekiedrukker.
Ek eet die appelkoosjem-hart van die deeg-margarietjie.
As ek deur die hart van die suikerblom korrel,
sien ek hom.
Sy oë is kakiekleur getreur.
Maar Ouboet sê jy kyk uit die hemel, Ma.
Hy sit met jou laaste blik soetkoekies tussen die bene.
Hy sê jy kyk oor sy skouer as hy huistoe kom.
Ons sit sommer op die vloer in die buitekamer
wat julle vir sy army-kuiers laat bou het.
Hy sê hy kry die geur van jou hare
in die stofgordyne en die stapeltjie Reader’s Digests.
Die kamer spoel geel van son en van populierblare.
Maar die kat kyk nie skielik op nie.
Daar’s `n vlieg vasgevang in die venstergaas.
Saans is daar muggies om die bedlig.
Jy`t toe nooit die nuwe deken oorgegooi nie.
Karlien van der Merwe
Dis ‘n kosbare juweelkis vol kleinood-taalskeppings en praatgebruike wat die leser bekoor en verstom. Dis so goed jy was daar, Karlien.
